
=====================================================================
'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


'n Skrywersoog op Kersfees

Rita Gilfillan roep uit die Afrikaanse letterkunde 'n vers en verhale van Kersfees voor die oog.

AL speurend deur die boeke wat opgegaar l in my geheue na wat daar in Afrikaans geskryf is oor Kersfees, kom Opperman se "Kersliedjie" 
eerste by my op. Onvergeetlik, miskien omdat dit die moontlikheid tot Redding hier onder ons, in Distrik Ses, indra.
Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo,

hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met 'n jakkalspad

al agter die ding wat skuiwend skyn
op 'n plakkie, 'n klip, 'n syferfontein,

oor die sink en die sak van Distrik Ses
waar 'n kersie brand in 'n stukkende fles,

en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.

Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gel voor God se klong

en die Here gedank in gesang en gebed
vir 'n kindjie wat ook di volk sou red ...

Oor die hele affre het uit 'n hoek
'n broeis bantam agterdogtig gekloek.

Een aspek van Kersfees is die hoop op Verlossing; 'n ander is Kersvader en sy presente.

As ons die verteller in Toon van den Heever se "Outa Sem en Vader Krismis" (Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer, 1948) kan glo, het die 
ou krel reeds tydens die Anglo-Boereoorlog deur Suid-Afrika gereis met sy slee en sy span takbokke.

Die verhaal vertel van Jannie, wie se ma dood is en wat in die oorlogstyd op die plaas agterbly in die sorg van outa Sem. Sy pa en ouer 
broers is op kommando. Gegee die omstandighede, en omdat hy 'n jammer hart het, probeer outa Sem om Kersfees so plesierig moontlik vir 
Jannie te maak. Vandaar sy storie oor sy wonderbaarlike ontmoeting met Vader Krismis.

Ten aanloop vra hy of Jannie darem weet watter dag die dag van mre is. Op die kind se ontkennende antwoord reageer outa Sem kamma 
verontwaardig: "Jy is so bymykoliewaar niks beterster nie as 'n onbesawelde heiden! Skaam jy jou nie! Dit is Krismis, die dag waarop ons 
Lieweneertjie, die Herre, gebore word."

Dan kom Sem gou uit by die saak wat hy eintlik op die hart het, en dit is Vader Krismis. Hy belowe om die ou voor te staan en hom plaas toe 
te dwing, al moet hy hom aan sy baard nader sleep. Want lank genoeg is Jannie oorgeslaan wanneer daar geskenke uitgedeel is.

Hy help Jannie om 'n streepsak aan die voetenent van sy katel op te hang. Die stomme kind besit immers geen kouse meer nie.

Die volgende oggend vind Jannie 'n botteltjie heuning in die sak,'n paar stukke soetriet en 'n yslike tarentaal. Bestanddele vir 'n 
feesmaal in 'n tyd toe "soetigheid iets was wat net in die herinnering bestaan het en vleis net 'n woord was om die speekselkliere mee te 
prikkel".

Nou vertel outa Sem vir Jannie hoe Vader Krismis die vorige nag sy takbokke tussen 'n klomp beeste in 'n kraal gejaag het, maar vandat 
"Gods Roberts" in die land is, het ook Vader Krismis niks anders as sonde, ergernis en verdriet nie. Die Kakies het sowaar opgedaag en die 
takbokke saam met die beeste geslag, met die gevolg dat Vader Krismis verder moes voetslaan. Taamlik gehawend en al hinkende en steunende 
ontmoet hy vir outa Sem.

"Ai, erre, etse, Baas Krismis! s ek, en hoe reis Oubaas dan venaand met dapper en stapper nes 'n Jood van negosie? Waar is die rygoed 
dan?"

Outa Sem onderneem om Vader Krismis te help. Van 'n ou spaaider prakseer hy 'n slee, en omdat ook al hlle beeste en perde "die army gejoin 
het", span hy 'n menigte miskruiers aan garedrade voor die slee in. Aan die punt van sy sweepstok maak hy 'n miskoek vas en daarmee swiep 
hy oor die span miskruiers. Hulle vat die reuk en styg in die lug op soos 'n swerm bye wat kwaad geword het. Hulle gly so skuins van 'n 
swaar wolk verby en koers kort onderkant die maan se linkerhoring deur. Op di manier lewer hulle gou al die presente af, en toe die 
rooidag breek, seil hulle oor Jan Vermaak se kraal vol Afrikanerbeeste. Net daar skrik outa Sem sy grootste skrik, want die vars misreuk 
trek sy span onweerstaanbaar terug aarde toe.

"Opdraand! skree Vader Krismis. Klim, man, klim, s ek!

"Watwo! Ek hou naderhand die sweepstok dat hy penorent staan, maar al wat klim, is die miskruiers. Die kraalmuur kom aan soos 'n trein wat 
ons stormloop! Hy word groter en groter en nader en nader en ...gwarasa-a-a!"

Nouja, outa Sem het die slee natuurlik nie omgesmyt nie, maar met die ploery deur die mis het Vader Krismis se baard goed vuil geraak en 
het hy 'n tarentaal doodgeval. Die einste wat in Jannie se streepsak beland het. Daar het hulle paaie geskei, want verder wou Vader Krismis 
dit nie waag met outa Sem se span miskruiers nie!

Die hartseer Kersverhaal "Tuiskoms" (1997) van Jaco Botha bly ook in my geheue hang . 'n Vrou gaan met 'n taxi huis toe n 'n jaar se werk 
as huishulp in die stad. Agterop die sleepwa, tussen die ander bagasie, is haar drie kartondose en twee drasakke vol geskenke, "want 
krismis moet alle mense tog vrolik wees". Sy verheug haar by voorbaat oor die nuwe rok vir haar ma, die suiker en die meel, 'n hemp vir 
haar pa, knipmesse vir die seuns en die pyp vir haar man. Sy sien al hoe haar ma die eerste is wat haar opmerk, en hoe sy van vreugde begin 
dans.

Maar daar is 'n ongeluk, en teen die slot van die verhaal is die vrou doof vir die gekerm rondom haar. Selfs haar eie beserings voel sy 
nie. Sy bly net "staar na die skeef verfrommelde waentjie waaronder haar mamma se mooie rooi rok, soos 'n waansinnige jakkals, spartel teen 
die wind".

Vir my is daar in Piet Cilli se "Die engeltjie wat agtergebly het" al die misterie en die vreugde van Kersfees saamgetrek. In Trinkie se 
brief aan haar omie vertel sy van twee dogtertjies wat met hul ouers vakansie hou by Willie se Baai. Waar hulle op 'n dag op die hoogste 
duin aan die speel is, ontmoet hulle 'n vreemde seuntjie. Hy vertel dat hy 'n engeltjie is. Eeue gelede het hy aarde toe gekom saam met 'n 
groot koor. Toe hulle teruggekeer het na die hemel, het hy agtergebly want hy hou van die aarde. Die dogtertjies nooi die engeltjie om saam 
met hulle in die koor by die Kersboom te sing, maar die voorwaarde waaronder hy op die aarde mag bly, is dat hy volstrek nie sal sing nie.

Natuurlik kry sy sanglus die oorhand en die volgende aand sing hy tussen die kinders by die Kersboom al die bekende Kersliedere in sy soet 
sopraanstem.

Wat my so tref in hierdie vertelling is die oomblik wanneer die voorhang skeur en wanneer hemel en aarde ontmoet in een groot lofsang:

"En toe meteens styg 'n goue kinderstem bo al die ander uit in 'n onbekende lied so skoon soos nog nooit op die aarde gehoor is nie behalwe 
n keer.

"Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

"En skielik word oor Willie se Baai die geluid gehoor van 'n magtige koor wat niemand kan sien nie. Hulle val in by die ho stem van die 
engeltjie en hulle sing Hosanna Hosanna Hosanna asof die hemel oopgegaan het.

"Toe sterwe die stemme weg en buite die doodstil saaltjie is daar net die bekende geluid van die see."

Inderdaad: Ere aan God in die hoogste hemele en in die mense 'n welbehae.   Rita Gilfillan is skrywer en kritikus. Haar jongste werk is Van 
stiltes en stemme.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5516.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

